08-04-10

Ons vir jou, Suid-Afrika!

Naar aanleiding van de laffe moord op Eugène Terre'Blanche plaats ik hier een opiniestuk dat verscheen op de webstek van de Volkskrant in Zuid-Afrika.

Rust in vrede Eugène! Ons vir jou, Suid-Afrika!


Aanhitsing tot moord

2010-04-06 - Jaap Steyn

Strydliedere met die woorde “Skiet die Boere” is vir my en baie ander mense meer as haatspraak – dis roekelose aanhitsing tot groepsmoord.

Dit het die rassespanning help veroorsaak wat ná die moord op Eugene Terre’Blanche die land tot naby die afgrond bring.

Die talle oproepe om kalmte is vanpas, maar dit is baie goed dat Solidariteit en AfriForum die Verenigde Nasies se Genocide Watch gaan vra om die situasie in die land te monitor.

Die probleem is veel groter as hierdie besondere moord, wat soveel aandag trek omdat die slagoffer bekend was.

Dit was die 3 368ste plaasmoord op boere of werkers sedert 1994.

Dat dit “gewone” of “normale” misdade is, glo ál minder mense.

Waarom gaan plaasaanvalle gepaard met soveel wreedaardigheid, marteling en vernedering?

Hoekom sou jy iemand met ’n strykyster brand, of kookwater in sy ore gooi, as jy net iets wil steel?

Die slagkreet “Skiet die Boere!” help skep ’n klimaat van minagting vir ander se menswaardigheid en lewe.

Dat die frase boonop nie net in een strydlied voorkom nie, maar in talle ander, vererger die saak.

Die ANC sê ons moet die historiese konteks in ag neem en die frase beskou as deel van die ANC se kulturele erfenis.

Maar dieselfde erfenis sluit ook die Vryheidsmanifes en die oproep vir ’n nasionalisering van myne in.

Vandag is daardie deel van die erfenis volgens Julius Malema ook hedendaagse beleid.

Terselfdertyd heg die ANC skynbaar geen waarde aan ander groepe se kulturele erfenis wanneer hy plekname soos Bloemfontein en Pretoria wil verander nie.

Deel van die historiese konteks is die simboliek van plaasmoorde.

Dit gaan oor grond, en oor “die Boere”.

Boere het ’n kardinale rol gespeel in die geskiedenis en identiteitsvorming van die Afrikaners.

Ook in die buiteland is “die Boere” geëer as ’n volk wat ’n dapper stryd vir sy vryheid gestry het.

Ons moet die situasie ook binne ’n ander historiese konteks bekyk, een wat as waarskuwing dien.

Die Nederlandse historikus-joernalis Geert Mak het in sy werk In Europa. Reizen door de twintigste eeuw die gebeurtenisse in Nazi-Duitsland toegeskryf aan ’n diepgaande kollektiewe morele ontsporing.

Mak suggereer dat ’n massale vervolging van minderhede enige tyd in enige land kan plaasvind.

Die huidige tegnieke, burokrasieë, repressie- en manipulasie-instrumente maak dit moontlik.

Dis ’n sombere siening, maar baie realisties.

Dis ’n waarskuwing aan minderheidsgroepe om nooit te gerus te wees nie – veral in tye wanneer politieke en ekonomiese onstabiliteit ontstaan, en die klimaat gunstig is vir die soeke na sondebokke.

In ons land loop baie dinge verkeerd. Sondebokke is al gevind.

Daar was reeds xenofobiese aanvalle van swart gemeenskappe op ander swart gemeenskappe.

En wat morele ontsporing betref, dit vind ’n mens op groot skaal in die “stilswygende korrupsie” in baie Afrika-lande, waarop die Wêreldbank onlangs gewys het.

Die verslag lui ook dat, wanneer ’n land soos Suid-Afrika etnies divers is, korrupsie noodwendige lei tot wantroue tussen etniese groepe.

Hoeveel tientalle of honderde male moet ’n oproep om mense van ’n spesifieke groep te skiet, herhaal word om ’n uitwerking te hê?

’n Dringende vraag is of ons genoeg aan selfverdediging dink en doen. Dit verdien aandag weens die wrede en wydverspreide geweldsmisdaad, tekens dat die regering nie sy werk doen nie en neutraal of vyandig teenoor Afrikaner-belange staan. Dit gaan om gedissiplineerde selfverdediging binne die perke van die reg, en in konsultasie met die owerheid.

Ander gemeenskappe het so iets. Die Moslem-beskermingsbeweging Pagad het aanvanklik saamgewerk met die polisie; in die Bo-Kaap het van die imams los van Pagad ’n wetsgehoorsame buurtwag wat steeds aktief is. Daar is swart vigilantebewegings en -howe. Die privateveiligheidsektor se legio bedrywe speel ’n rol in sekere stede.

Onder Vrystaatse boere bestaan ’n inligtingstelsel wat al verskeie plaasmoorde voorkom het.

Iets word dus wel gedoen, maar vermoedelik gebeur dit nie wyd, professioneel en afskrikkend genoeg nie.

Mense mag besluit om gemeenskapsveiligheid te ignoreer, maar die brutale geweldenaars gaan nie ’n sagte teiken ignoreer nie.

Jaap Steyn is ’n onafhanklike kommentator.
- Volksblad

11:55 Gepost door Bert Deckers in Actualiteit | Permalink | Commentaren (0) |  Facebook |

De commentaren zijn gesloten.